Jaco & Zuria se prag troue gekoördineer deur Creation Events

Hierdie pragtige paartjie het van hul ontmoeting af geweet dat hulle nog ‘n lang paadjie saam sou stap.  Nou kan hulle uitsien om dinge as getroudes saam te doen.  Die dekor was pragtig en alhoewel dit natuurlik gehou is het dit steeds intiem en modern gevoel. Jy kan sien dat elke element fyn deurdag is om die perfekte geheel prentjie te kon maak.  Die goue elemente soos die onderborde, geometriese ligte en goue speelgoed diertjies waaraan die sitplek kaartjies vasgemaak is het dit ‘n elegante gevoel gegee en dit intiem en warm laat voel.  Moet beslis nie hul dekor foto’s mis nie.

Lees ook die paartjies se slim advies oor hoekom jy nie teveel moet stres oor hoe die dag uitdraai nie.  Asook watter wenke hul baie gehelp het tydens die beplanning van hul troue.

Vertel ons hoe het julle ontmoet?


Ons het mekaar ontmoet toe ‘n gemeenskaplike vriendin ons albei uitgenooi het om een aand saam met haar uit te gaan in Kaapstad in Oktober 2010.  Daar was dadelik ‘n konneksie.  Ons verhouding het vinnig ernstig geraak.  Jaco het toe reeds ‘n oorbruggingsjaar in Amerika vas gemaak en het daardie Januarie in 2011 vertrek.  Van die begin af het ons sommer besluit ons gaan die verhouding maak werk oor lang afstand.  Gelukkig het Jaco na 6 maande besluit om terug te kom!  Ons het 5 en ‘n half jaar uitgegaan voor ons verloof geraak het in Julie 2015.  Dit is waar as hulle sê teenoorgesteldes trek mekaar aan.  Tog is daar so baie waaroor ons saamstem en belangstellings wat ons deel!

Wat was die styl van die troue?


Ons wou graag ‘n venue gehad het wat ‘n gemaklike atmosfeer sou skep.  Waar ons regtig net ‘n lekker saam kuier aand kom hou met familie en vriende.  Ons het Rockhaven gekies vir die mooi plattelandse gevoel wat die plaas geskep het met sy appelboorde en mooi landskap tonele.  Ons was ook spesifiek mal oor die kerkie wat op die damwal gebou was met net drie mure sodat mens die diens saam met die natuur kon geniet.

Dit was vir ons belangrik dat die gaste nie hoef te ry nadat hulle die diens bygewoon het nie, wat Rockhaven die perfekte plek gemaak het.  Ons het drankies en voorgereg op die damwal voor die kerkie bedien en die onthaal lokaal was reg langsaan wat dit so gerieflik gemaak het.  Die onthaal lokaal het ook ‘n lieflike buite area gehad waar ons rusbanke kon uitsit met sagte beligting wat ‘n heerlike kuier atmosfeer geskep het.

Die dekor en tema was alles natuurlike elemente soos grys linne, hout tafels, blare (uit die eukaliptus boom waar ek, Zuria, as kind gespeel het), sagte wit, room en lig pienk blomme en bietjie goud en glas vir ‘n moderne element.  Ons het die eukaliptus blare en baie liggies van die dak laat hang om ‘n buite gevoel binne te skep.  ‘n Hoogtepunt was dat Jaco se oom ons getrou het, soos hy dit ook jare terug vir Jaco se ouers gedoen het.  Ons wou graag ons gaste wat van ver gekom het erkenning gegee het deur die stede en dorpe met die afstand tot by die venue op aanwysings bordjies te skryf.  Ons het ook wyn uit spesifieke areas spesiaal aan die familie gekies vir die aand.

Familie en vriende het almal ingespring en self gemaak van die aanwysings, die troukoek, dekor, rokkies en die hele poeding tafel van terte en tuisgemaakte lekkernye om net ‘n paar dinge te noem. Dit was so spesiaal om almal so deel te hê van die troue en reëlings.  Ons was ook so gelukkig om ‘n ongelooflike koördineerder te hê wat reg was om oral uit te help en raad te gee wat die dag ekstra spesiaal en spanningsvry gemaak het.

Was julle met wittebrood?


Ons het die Sondag na die troue ‘n groot Griekse ontbyt gehou in ‘n appelboord op Terra Madre in Elgin waarna almal ons afgesien het vir ons wittebrood.  Ons is Thailand toe waar ons na verskeie eilande gegaan het.  Dit was ons eerste oorsese vakansie saam en ook ons eerste keer in Thailand, so ons het dit vreeslik geniet om die eilande saam te verken.  Ons gunsteling was Phi-Phi waar ons by ‘n oord gebly met ‘n privaat strand en sy eie koraal vir snorkel.  Dit was romanties en rustig en ons kon van daar die res van die area ervaar deur bote te huur.  Ons het ook tyd in Phuket en Krabi spandeer wat elk ‘n ander gevoel gegee het aan die vakansie.

Wat sou jul verander het as jul kon?


Ons het veranderinge gemaak op die laaste oomblik as gevolg van onvoorsiene omstandighede.  Albei van ons kan nou terugkyk en met gerustheid sê dat dit wel uitgewerk het soos dit moes.  ‘n Voorbeeld hiervan is dat die musiek groep wat ons geboek het, net 2 weke voor die troue gekanselleer het.  Ons moes toe ‘n ander plan maak.  Ons het toe gelukkig vir Natasha Meister geboek. Dit was perfek vir die dag en gevoel wat ons wou skep.

Daar is gelukkig nie iets wat ons sou wou verander het van ons troudag nie.  As ons aan ander die raad kan gee wat aan ons gegee is sal ons sê dat die bruidspaar seker moet maak om by almal uit te kom.  Meer belangrik om meer as een keer, saam, eenkant te gaan staan en net die atmosfeer en gaste wat lekker saam kuier te observeer en dit net vir ‘n oomblik in te neem.  Dis werklik die beste dag van mens se lewe, maar dit gaan so gou verby!

Advies aan paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Dis belangrik om jou Venue so gou as moontlik vas te maak.  Dit bepaal die datum van jul troue.  Ons het gevind dat dit makliker was om ‘n gevoel vir ‘n venue te kry deur na fotograwe se webtuistes te gaan en na troues te kyk eerder as om na die venues se webtuistes te gaan.  Daardeur kan mens vinniger die ‘n kortlys opstel van plekke wat mens sal wil besoek.

Raad vir die grootdag sal wees om te aanvaar dat daar sekere goed is wat jy nie kan beheer nie.  Onthou dat die idee van jou perfekte dag is in julle koppe en nie in die gaste sin nie.  So niemand sal agterkom as dit nie so uitdraai nie!  Op die ou einde is dit ‘n samekoms om liefde, familie en vriendskap te vier.  Dit moet die belangrikste element wees van jou dag.

Wat was julle trou begroting?


‘n Trou begroting is baie belangrik om jou riglyne te gee.  Dit is belangrik om te beplan onder jou begroting (beteken daar ‘n bietjie geld oor is van jou begroting), want daar is altyd onvoorsiene uitgawes.  Ons was gelukkig om ‘n koördineerder te hê wat ons baie gehelp het om kostes te sny en vir ons goeie raad te gee vir alternatiewe wat meer bekostigbaar was.


    Artikel Diensverskaffers:

    [section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers:

    [endsection]