Willie & Vivienne se verlowing fotosessie

Ironrose Photography Fine Art Wedding Photographer Gauteng South Africa

Willie & Vivienne se weddenskap oor wie die aflosse sou wen, was maar net die begin van hul storie.  Die twee is nou opgewonde om saam te kan beplan aan hul troudag en het solank met ons hier by Mooi Troues hul pragtige verlowings foto’s gedeel geneem deur die talentvolle Ironrose Photography. Ons is mal oor hoe die paartjie, wat hulself as huis henne beskryf, hul persoonlikhede uitgebeeld het in die fotosessie deur dit knus en gemaklik te laat lyk.



Vertel ons hoe het julle ontmoet?


Vivienne: Ek en Willie was saam op skool.  Ons was nie vriende nie, maar ek het geweet wie hy was – die beste tennisspeler in die skool. Aan die begin van ons matriekjaar het ons vlugtelik ontmoet en ek was dadelik aangetrokke tot sy vriendelike persoonlikheid, maar ons het eers behoorlik gesels toe die skool ‘n paar weke later ‘n atletiek byeenkoms teen Affies gehad het.  Ons het toevallig langs mekaar gesit op die paviljoen om ons atlete te ondersteun.  My ma was die skool se atletiek afrigter en ek het al die atlete geken en ek was daarom oortuig dat ons skool die aflosse sou wen. Willie was nie so seker nie en het my R10,00 gewed dat ek verkeerd was. Ons het so gelag en gesels – dit was een van my gunsteling skooldae, al het ek R10,00 verloor!

Willie: Albei ek en Vivienne was vas oortuig dat ons respektiewe spanne by ‘n atletiek byeenkoms die aflosse sou wen.  Ons altwee is ewe hardkoppig en natuurlik was die enigste oplossing ‘n R10,00 weddenskap. Ons het toevallig langs mekaar gesit op die paviljoen, en onmiddellik begin gesels.  Ek was baie aangetrokke tot Vivienne se sprankelende opgewonde persoonlikheid. Ook haar nederigheid het veral deurgeskyn toe sy die weddenskap verloor en moes inbetaal.  Tot vandag toe nog is sy R10,00 in die skuld…





Vertel ons meer van julle verlowing?


Vivienne: Dit was so romanties! Ons was met vakansie in Venesië. Willie het my die middag gevat na die balkon van die hotel waar ons na die mooiste uitsig gesit en kyk het. Ons het afgegaan om reg te maak vir die aand se uitstappie na die pret karnaval wat reg langs die Grand Canal opgerig was. Net voor ons wou loop het Willie eweskierlik vir my gesê dat hy graag weer na die balkon wil gaan, want hy wil die sonsondergang sien. Ek was nog besig om die uitsig te bewonder toe Willie my op die skouer tik en op sy knie neersak. Dit was so spesiaal.

Willie: Dit was tydens ‘n vakansie in Europa, voordat ons weer by die res van die familie by die ski oord sou aansluit het ons alleen na Venesië gereis. Dit was ons tweede laaste dag gewees in die stad en bo-op die hotel waar ons gewoon het, is daar ‘n hout dek wat uitkyk oor die “Grand Canal”, met die mooiste sonsondergange. Die oorspronklike plan was om eers by die familie aan te sluit en dan die vraag te vra. Maar ek het onmiddellik my planne verander en besluit dat ek die vraag op die hout balkon sou vra tydens sonsondergang.





Vertel ons die inspirasie agter die verlowing fotosessie?


Vivienne: Ons is albei “huis henne”. Dit is vir ons vreeslik lekker om tyd saam by die huis deur te bring. Ons wou daarom hê dat die fotosessie so gemaklik en knus as moontlik moes wees. Ons het daarom gekies om dit te doen in die park naby my huis. Ek het geweet dat die parkie ‘n baie mooi agtergrond sal skep vir die fotos. ‘n Kort rukkie voor die fotosessie sou begin, het ek vir Willie gevra om te kyk by die blomme winkel naby ons huis of daar nie dalk iets is wat ons kan deel maak van die fotosessie nie, om nog ‘n bietjie kleur in te bring. Hy het by die huis aangekom met die mooiste rooi langstamrose en dit het net perfek ingepas by die knus, romantiese tema wat ons wou hê.

Willie: Om eerlik te wees het ek geen insette gehad in die reël van die fotosessie nie. My grootste opdrag was slegs om ‘n nuwe hemp te koop en stiptelik die Saterdag by die parkie te wees. Die fotosessie was baie lekker en die fotograaf, Barbara, het dit vir ons baie gemaklik gemaak en ons het dit vreeslik geniet.










Vertel ons wat is jul droom troue?


Vivienne: Ons idee van ‘n droomtroue is eenvoudig. Ons wil net hê dat al ons familie en vriende teenwoordig moet wees om getuies te wees as ons trou aan mekaar beloof. Ons wil hê dit moet ‘n warm en gelukkige atmosfeer wees waar almal dans en hulself kan geniet om die wonderlikste dag in ons verhouding saam met ons te vier.

Willie: Om al ons familie en vriende teenwoordig te hê by ons troue is alreeds ‘n groot bonus. Verder sal ek baie gelukkig wees as alles net glad verloop sonder enige ongelukkigheid en ongerief. As almal wat by die troue is dit ten volle geniet is die dag vir my ‘n sukses. Ek as die man dink en het nie te veel insette oor al die klein goedjies nie. My droom troue kan enige plek met geen mense wees solank ek net met my droom vrou trou.















[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]