Heinrich het geweet daar is iets spesiaal aan Anneké nadat hy haar ontmoet het en het toe ook sommer vinnig plan gemaak om haar weer te sien, al het die plan ‘n groot ompad tydens sy vakansie roete beteken! Hulle troue was ‘n pragtige natuurlike troue met koningsblou en gehekelde elemente wat perfek saamgewerk het met die ou wêreldse venue. Die paartjie het die fokus op hul liefde vir mekaar en die samesyn tussen vriende en familie geplaas deur hul troudag te omskep in ‘n trou naweek. Lees onder die oulike advies wat die paartjie gee asook die insetsel oor hul wittebrood en hoekom hulle eers ‘n dag of twee gewag het voor hul vertrek na die wittebrood.
Vertel ons van jul ontmoeting?
My stiefsuster, Heinrich se jare lange vriendin, het aan beide van ons genoem dat sy ons aan mekaar wil voorstel. Sy het gedink ons sal perfek wees vir mekaar, want volgens haar is ons ewe buitengewoon. Na ’n vinnige ontmoeting by ’n braai het Heinrich my gekontak terwyl ek in Port Elizabeth was vir die vakansie. Hy het genoem dat hy ‘in die area is’ vir ’n troue en dat hy graag wil gaan koffie drink. Wat ek nie op daai stadium geweet het nie, was dat hy ’n 1,000km ompad op sy vakansie roete moes ry om saam met my vir ’n uur lank koffie te drink! Na die koffie het Heinrich die res van sy roete voltooi. Ons het egter soos tieners elke aand in die vakansie ’n ure lank op die foon gesels en mekaar beter leer ken.
Ek was van die begin af aangetrokke tot Heinrich se avontuurlus, die manier waarop hy anders na die wêreld kyk en sy moed. Heinrich het die vermoë om my uit te daag en te motiveer om buite my gemaksone te beweeg. Sy blou oë, sagte hande en ruwe aantreklikheid is net ’n verdere bonus. Vir Heinrich was Anneké se groot bruin oë een van die eerste dinge wat hy opgelet het. Tydens koffie het hy besef dat sy ’n pittige en skerp sin vir humor het. Haar intelligensie en nuuskierige geaardheid was vir hom die heel aantreklikste. Heinrich glo dat as hulle eendag as 80 jariges op die stoep sit, sal hy nogsteeds vir Anneké interessant vind en sal sy hom nogsteeds iets nuut kan leer.
Wat was die styl van die troue en waar het jul julle inspirasie gevind?
Sag. Vintage. Stylvol. Intiem. Met ‘n klem op detail en samesyn. Florence Guest Farm, ons venue, is onopgemaak alreeds so mooi, dit het nie baie nodig nie en ons wou dit nie soos ’n sirkustent laat lyk het nie. Ek het ’n foto van doilie tafellopers op Pinterest gesien en dadelik gedink dit is uitsonderlik. Iets wat ek nog nie op enige ander troue of funksie gesien het nie.
Hoekom het julle die venue gekies
Florence Guest Farm was die heel eerste venue waarna ons gaan kyk het. Dit was liefde met die eerste oog opslag. Ons was beïndruk met die natuurskoon, die bos kerk met sy kalmte, en hoe goed ingerig Tannie Ané van Florence Guest Farm was. Van Mooi Nooi met sy volledige haarsalon, die Ram Kamp waar die manne kan reg maak, tot die keurige akkommodasie. Ons het na vyf ander venues gaan kyk, want mens kan mos nie die heel eerste plek nie kies nie, maar op die ou einde kon niks kom naby Florence nie. Een van die groot redes hoekom ons Florence gekies het was die geleentheid om ’n trou-naweek eerder as ’n trou-dag te hê. Gaste kon deur ry Chrissiesmeer toe, oorslaap in een van die vele kamers by Florence Guest Farm, die area ontdek, en kuier van die oggend tot die aand.
Ons het by baie paartjies al gehoor dat die trou dag verby vlieg en dat mens nie by almal uitkom nie. Omdat ons fees gevier het van die Vrydag aand tot die Sondag oggend, saam met ons gaste, was dit glad nie ons ervaring nie. Daar was ’n gevoel van samesyn en feestelikheid op die plaas. Ons troue die Saterdag aand was net die kersie op die saam-kuier koek. ’n Destinasie-troue wat strek oor ’n hele naweek het ook vir ons twee families, wat onderskeidelik van Port Elizabeth en Groblersdal kom, die geleentheid gegee om mekaar beter te leer ken.
Een van ons lekkerste herinneringe van ons troue was toe ons uitkyk oor die plaas die Saterdag oggend en orals groepe vriende en familie sien kuier en lag, grasperk speletjies speel en karre sien dorp toe mik om ’n gin tasting te gaan doen.
Was julle met wittebrood?
Ons het besluit dat ons so vinnig as moontlik by ons bestemming wou uitkom en wou begin wittebrood hou. Dus wou ons nie te ver reis nie. Ons glo ook dat van die wêreld se mooiste plekke hier op ons voorstoep is en ons geniet dit om Suid Afrika te ontdek. Ons is dus Knysna toe vir ons wittebrood. Daar het ons vir vyf aande op ’n huis-boot gebly in die Knysna strandmeer waarvandaan ons Knysna ontdek het, gaan stap het in die woud, oesters geëet en mooi sonsondergange geniet het. Daarna is ons na ’n melkplaas nader aan Wildernis, waar ons in ’n historiese kliphuis gebly het. Hier het ons al ons tyd voor ’n kaggelvuur met ’n boek spandeer. Dit was salig, na maande van trou beplanning stres.
’n Wenk vir wittebrood beplanning – Reël die vertrek tye so dat julle nie vroeg die oggend na julle troue vertrek nie. Ons het eers twee dae na ons troue op wittebrood gegaan. Dit het ons tyd gegee om vir ’n laaste keer saam met ons gaste te kuier, ordentlik baai te sê, te pak, seker te maak gehuurde items kom terug by die verskaffers en dat alles in orde is. Ons kon met rustige en vol harte op ons wittebrood gaan.
Wat sou jul verander het as jul kon?
Ons sou regtig niks verander nie. Vir ons was ons troue presies soos wat ons ons dit verbeel het. As ons iets moes sê sal dit wees dat een van die lae koek in ons drie-laag trou koek se geure, wat vir ons heerlik was, was dalk ’n bietjie te waaghalsig vir ons gaste en het dus nie aftrek gekry nie.
Advies wat julle aan ander paartjies kan gee wat besig is om hul troue te beplan?
Vat ’n oomblik na die seremonie, tydens die onthaal, om as paartjie te ‘verdwyn’. Net julle twee saam. Gaan sit êrens rustig maar eenkant waar julle alles kan inneem en waardeer die oomblik. Waardeer dit wat sopas gebeur het, die groot stap wat julle geneem het, en dit wat julle saam gereël het. ‘n Mens kan vinnig opgevang word in die trou-gees en die trou industrie se praatjies oor ‘die belangrikste dag van jou lewe’ en neig om oorboord te gaan. Probeer om tydens die beplanning te probeer onthou waaroor die dag regtig gaan – 2 mense wat ’n belofte maak voor God en die mense wat hulle liefhet.
Jy het nie al die onnodige tierlantyntjies nodig vir dit om ’n spesiale dag te wees nie. Al waaroor mense in elk geval praat na die tyd is die kos en die musiek. Probeer die beplanning en nie net die groot dag, geniet. Dit is spanningsvol, nie altyd maklik nie, en dinge gaan verkeerd loop. Die bos kerk waarin ons sou trou, is twee maande voor ons groot dag vernietig! Maar die beplanning, opgewondenheid en moeite is deel van die lekker, en iets wat julle (hopelik) net een keer in julle lewe gaan kan aanvaar.
[section=Klik hier vir diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Trou venue: Florence Guest Farm, Chrissiesmeer
- Fotograaf: Splendid Productions
- Videograaf: Fascination Pictures
- Blomme en dekor: Love & Grace
- Grimering: Blushing Bride Studios
- Hare: Karima van der Westhuizen
- Trourok: Olivelli Northcliff
- Strooimeisies rokke: Gelique
- Bruidegom en Strooijonkers pakke: Khaliques
- Troukoek: Oh my Cake!
- Gras Speletjies: f64