Willem & Marike se mooiste dag in die Vrystaat

Willem en Marike het van die begin af geweet dat hulle perfek is vir mekaar.  Die twee deel dieselfde passies, sin vir humor en nou ook die res van hul lewens.  Dit was ‘n pragtige dag wat betowerende elemente soos die roos goud kleurskema met die rustieke gevoel van die venue kombineer.  Lees onder meer oor hoe hierdie twee saam ‘n pragtige troue in die Vrystaat beplan het en ook hulle advies aan paartjies wat nou besig is om te beplan vir hul groot dag.

Hoe het julle ontmoet en watter eienskappe het julle aangetrek tot mekaar?


Ons het mekaar in Februarie 2015 deur gemeenskaplike vriende ontmoet.  Willem het op daardie stadium in Lesotho gebly en gewerk en ek in Pretoria.  Vriende van ons wou ons al telkemale aan mekaar voorstel omrede hulle gedink het dat ons goed oor die weg sou kom en mekaar se geselskap sou geniet.  Met behulp van sosiale media het ons begin gesels waarna Willem die eerste kans wat hy kon kry die groot tog na Pretoria toe aangedurf het om my te ontmoet.  Ek dink ons was albei smoorverlief toe Willem daardie Sondag huistoe ry en soos hul sê, die res is geskiedenis.  Ek het ses maande later Bloemfontein toe getrek waar ons, ons gevestig het.

Watter eienskappe het julle na mekaar aangetrek ?


Die ding wat ons seker die meeste aangetrek het tot mekaar was dat ons albei ‘n baie goeie sin vir humor en passie vir liefde het. Ons hou van lag en baie daarvan. Ons kan ure lank gesels terwyl ons handjies vashou op die bank sonder om verveeld te raak. Beide van ons geniet dit om fisiek aktief te wees en ons streef na ‘n gesonde lewenstyl, dit is iets wat ons ook graag saam beoefen gedurende die week.  Ons is albei groot Christene en dit was vir ons belangrik dat ons waardes ooreenstem.

Wat was die styl van die troue en waar het julle jul inspirasie gevind?


Die styl van die troue was modern gemeng met ‘n tikkie ou wêreldse gevoel wat die venue gebied het.  Ons het roos-goud geïnkorporeer met hout op die tafels. Baie van ons idees was afkomstig van Pinterest, sodoende het ons baie van die roos-goud bottels en ander items self gemaak en verskaf.  Ons het besluit op Pepermossie in Bloemfontein as die venue vir ons groot dag.  Dit was die eerste en enigste venue waarna ons gaan kyk het.  Ons was dadelik mal oor die ligging van Pepermossie wat die Vrystaatse vlaktes beklemtoon.  Beide die kapel en onthaal area was perfek vir ons 80 gaste. Die dekor en atmosfeer van Pepermossie is ‘n ware weerspieëling van die passievolle eienaars wat dit hul nommer een prioriteit maak om na al jou behoeftes om te sien.

Was julle met wittebrood?


Ons was vir nege aande Phuket en Phi Phi eilande toe in Thailand.  Dit was ons eerste buitelandse vakansie saam.  Dit was ‘n wonderlike ervaring om die kultuur en pragtige land saam te sien en ervaar. Dit was definitief die beste vakansie van ons lewe en ons sal dit vir enige iemand kan aanbeveel.

Wat sou jul verander het as jul kon?


Ek sou ‘n musiek versoek op my uitnodigings geplaas het asook ‘n musiek lys opgestel het om my die gemoedrus te gegee het dat almal die musiek geniet het.

Advies aan ander paartjies wat besig is om hulle troue te beplan?


Moenie te vroeg begin beplan nie anders wens jy die tyd om.  Deel jou verantwoordelikhede met mense wat graag wil help en los die harde werk die dag voor die troue in die bekwame hande van die venue.

Wat was julle trou begroting en hoeveel het julle troue op die ou einde gekos?


Ons begroting was R120 000. Ons het ekstra betaal vir die mans se klere asook die drank en koeldrank op die dag.  Ons troue het uitgewerk op R135 000

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: