Estelle en Wezley is ‘n avontuurlustige paartjie wat nie kan wag om die res van hul lewens saam te spandeer nie. Hulle deel dieselfde passies en is lief vir die lewe. Hierdie verlowings fotosessie is pragtig vasgevang en is geneem by ‘n hospitaal omdat dit juis hier is waar die paartjie mekaar ontmoet het. Lees onder meer oor hoe die twee mekaar beter leer ken het tydens hul mediese internskap by die Chris Hani Baragwanath hospitaal. Hulle het reeds daar geleer het om die soet en sout kant van die lewe met ‘n glimlag saam aan te vat.
Vertel ons meer oor julle ontmoeting en wat julle aantrek tot mekaar
Ons het ontmoet gedurende ons internskap by Chris Hani Baragwanath Hospitaal in 2015. Almal het ons bang gepraat oor Baragwanath, en hulle was nie heeltemal verkeerd nie, die ure was rof, pasiënt nommers hoog en die slaap min, maar dit het uitgedraai om die beste tye van ons lewens te wees.
Estelle: “Wezley het net so manier om almal om hom se aandag vas te vang die oomblik wat hy binne ‘n vertrek stap. Die grootste eienskap wat my na hom aangetrek het, is toe ek sien hoe goed hy met pasiënte en hul families werk, hy het die grootste hart, en ek kon nie wag om deel van daai hart te wees nie! Ook die skrefies langs sy oë as hy glimlag, dit wys iemand met ‘n sin vir humor, wat maklik lag en nie die lewe hom laat onderkry nie, en altyd regstaan om iemand se dag op te kikker met grappies en sy streke. Dis moeilik om ‘n lewe in te dink waar ek nie die man ontmoet het nie.”
Wezley: “Die eerste karakter eienskap van Estelle wat my aangetrek het tot haar is haar lag en glimlag. Estelle lag as sy praat, sy lag as sy werk en dan kan sy nog lag en glimlag. Sy het integriteit en haar houding teenoor lewe en werk is dat sy altyd wil doen wat sy kan vir ander. Estelle is ‘n plesier om rondom te wees en het ‘n avontuurlustige kant – sy kan glad nie verdra om verveeld te wees nie! Ek kan nie wag om met haar te trou nie!”
Hoe het julle verloof geraak?
Ons is altwee groot natuur liefhebbers en mal oor avonture. Ons was in Clarens vir die naweek. Ek was “postcall” op die dag, en mens se slaap patroon is maar deurmekaar. Teen vier uur die oggend was ek wakker, en hy vra toe of ek bietjie wil buite sit met koffie. Ek was skaars op die stoep toe hy my optel en in sy kar sit. Hy sê toe ons moet bietjie rondry.
‘n Paar kilometer later is ons by Goldengate, dit word verlig in die aand, ons sit agter in sy kar en die reën val liggies. Toe die reën ophou, ry ons na die kampeerarea. Daar het Wez my ‘n broek en tekkies gegee want tot op die stadium was ek nog in pajamas gewees. Hy wys my toe ‘n staproete. Ons volg toe die mooiste roete, ek minwetend wat aangaan, en toe ons bo op Buttress kom draai ek om, en daar vra hy my om te trou!
Wat was die inspirasie vir die fotosessie?
Ons het die fotosessie gehou by Chris Hani Baragwanath, omdat ons daar ontmoet het, en oor 2 jaar se internskap meeste van ons tyd daar spandeer het. Verskeie 30 uur skofte, min slaap, min kos, duisende pasiënte, geen stort, geen make up, mens se laagste moegste punt, maar ook die beste nuwe maats het ons hier ervaar. Dit het amper soos familie geword, ervaring soos min, en van die lekkerste tye saam.
Hoe lyk julle droom troue?
Ons droom troue is definitief in die natuur, ons is mal oor die berge en sal mal daaroor wees om iewers buite te trou met ‘n pragtige uitsig. Ons het ‘n hele klomp mense vir wie ons baie lief is, en sonder hulle daar sal die dag niks beteken nie. En dan soos enige lekker Boere troue, sal daar lekker kos, lekker musiek, en lekker rooi wyn moet wees.
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Venue: Chris Hani Baragwanath Hospitaal
- Fotograaf: In Abundance Photography