Cobus en Ebet het eers later agtergekom dat hulle vir mekaar bedoel is. Nou is hulle doodseker dat hulle die res van hul lewens net met mekaar wil deel. Ebet se droom troue het ʼn werklikheid geword die dag toe sy in haar pa se skuur kon trou op hul plaas. Al was die geleentheid binne ʼn skuur gehou, het dit enige iets behalwe afgeskeep gelyk! Onder kan jy meer sien van die natuurlike aanslag wat Cobus en Ebet tot hul troue gevoeg het en hoe hulle die dekor elegant en tydloos laat lyk het.
Hoe het julle ontmoet en watter eienskappe trek julle na mekaar aan?
Cobus het in sy vyfde jaar in ‘n studente-huis ingetrek in Bloemfontein en met hul dak-nat-maak-partytjie was ‘n klomp vriende oorgenooi. Die vriende moes vriendinne ook saamnooi en Ebet, toe ‘n tweede jaar student, was toe nou ook genooi. Daar het ons ontmoet. Nooit het ons weer kontak met mekaar gehad nie, tot ses maande later wat ek, Ebet, ‘n metgesel vir ‘n funksie nodig gehad het. Steeds was daar niks aan die broei nie. Eers ‘n paar weke later toe ons saam met ‘n klomp vriende ‘n naweek langs die Vaalrivier deurgebring het, het ons gekliek en onophoudelik oor en weer vir mekaar gekuier. Ons is albei ekstroverte wat hou van kuier, pret-hê en ons albei is mense-mense.
Cobus se selfvertroue, humor en lekker geselskap het my aangetrek. Hy het my van dag een af gemaklik laat voel asof ons mekaar al jare lank ken. Ook Cobus se spontaniteit het my definitief na hom toe aangetrek. Ebet het met ons eerste ontmoeting al my oog gevang maar ek het glad nie gedink ek staan ‘n kans met haar nie. Sy het my aangetrek met haar joviale persoonlikheid, vriendelikheid en selfversekerdheid. Die manier hoe sy met enige iemand kon gesels, of sy jou nou ken of nie, het my net nog meer van haar laat hou.
Wat was die styl van die troue en waar het jul julle inspirasie gevind?
Die styl van ons troue was ‘n natuurlik, Woud-agtige sprokie maar tog plaastroue. Ek, Ebet, is mal oor die groen van Bloekomboom blare en waar ek groot geword het is daar ongelooflik baie bloekombome. Die bloekombome het my inspireer vir my troue en dit het ons ook gehelp om te spaar op die onkostes van blomme. Ons het op my pa se plaas in ‘n groot skuur getrou. My pa het tien jaar terug die skuur net as ‘n afdak gebou met die idee dat hy dit eendag sal toebou. Ek het reeds van toe af vir hom gesê hy moet begin om die stoor toe te bou, want ek gaan in daardie stoor trou. Uiteindelik raak ek toe verloof en die stoor word toe uiteindelik toegebou vir die groot makietie wat voorlê.
Was julle met wittebrood?
Ons was in Mauritius by Le Victoria Beachcomber Resort vir ons wittebrood. Dit was die lekkerste vakansie waarop ons nog was. Hulle het ons op hul hande gedra en die diens was uitstekend. Ons sal definitief eendag weer soontoe wil gaan.
Wat sou jul verander het as jul kon?
Elke liewe oomblik van ons troue was net soos ons dit wou hê, te danke aan ons ouers. Ons sou nie enige iets wou verander nie, omdat ons troue al ons wildste drome oortref het.
Advies wat julle aan ander paartjies kan gee wat besig is om hul troue te beplan?
Doen en bespreek soveel as moontlik so vroeg as wat julle kan om die spanning te verlig nader aan die tyd en beplan alles baie mooi. Sonder goeie beplanning sou ons nie al ons dinge kon klaar kry voor die troue nie en vra vir hulp, mense hou daarvan om te help met troues.
Wat was julle trou begroting en hoeveel het julle troue op die einde gekos?
Ons het 230 gaste gehad en ons begroting was so om en by R200 000, ons het op die ou-einde omtrent R180 000 vir ons troue betaal.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Trourok: El Heathcote
- Hare & Grimering: Juliette du Plooy
- Musiek: MDP MUSIC Promotions
- Fotograaf: Frisson Photographic
- Verhurings en kos: Adat Verhurings
- Videograaf: Rolene van der Merwe