Waldo & Minet se verlowing fotosessie

Dit is algemeen dat paartjies bietjie skrikkerig is vir ‘n fotograaf se kamera;  Dit is baie normaal!  Ons by Mooi Troues beveel aan dat paartjies wel oor die vrees kom deur ‘n verlowing fotosessie met hul trou fotograwe hou.  Sodoende word die ys gebreek en almal word gemaklik met mekaar se persoonlikhede.

Lees onder hou oulik Waldo en Minet se fotograwe was om die paartjie gemaklik te maak.  Die foto’s lyk asof hulle al jare natuurlik lief is vir poseer voor die kamera!

Vertel ons hoe het julle ontmoet?


Ons ontmoeting is eintlik ‘n lang storie, maar alles het begin op Mosselbaai se strand in 2006.  Hy was ‘n Paarl Boy’s High seun en ek was ‘n Bloemfonteinse Eunice Girl, wat deur vriende ontmoet het en Desember vakansies saam gekuier het.  In 2010 het ons paaie weer gekruis as studente op Kovsies, maar dit was eers nog 2 jaar later wat ons werklik mekaar vir die eerste keer raak gesien het.  In 2012 het vriende van ons begin uitgaan en dis deur hulle wat ons meer tyd saam mekaar begin spandeer het.  Ons het nie een werklik geweet hoe ons oor mekaar voel nie, maar toe Waldo in die hospitaal beland met ‘n rugby besering en skelm my hand vasgehou het, het ek dadelik geweet dat hy wel dieselfde oor my voel soos ek oor hom.

Vir Minet, was dit Waldo se opregtheid, spontaniteit, aansteeklike lag en liefdevolle hart wat ek net nie genoeg van kon kry nie.

Vir Waldo was dit Minet se omgee hart, liefde vir kinders (haar beroep) en die feit dat sy ‘n groot bok vir sports is, wat my hart vinniger en stadiger, op dieselfde tyd laat klop het.

Vertel ons hoe het julle verloof geraak?


Dit was ‘n totale verassing gewees vir my!  Waldo is só goed daarin is om ‘n geheim te hou.  Waldo het gesê hy wil my iewers heen vat vir ons 4 en ‘n half jaar herdenking.  Ons het gery na Augrabies, Nasionale Park waar ek gedink het ons maar gaan rondry en piekniek hou iewers.  Min het ek geweet dat Waldo al ‘n maand van tevore gaan ouers vra het en die ring al vir ‘n geruime tyd in sy kluis toegesluit hou.

Hy het gereël met ‘n vriendin en haar man om alles te gaan uitpak en reg te sit vir wanneer ons daar aankom.  Ons het tot by ‘n uitkykpunt gekry.  Ek het ‘n paar van ons vriende daar gesien, maar steeds niks vermoed nie.  Ek het bloot gedink dis nou toevallig dat hulle ook daar is.  Ons het opgestap na die dek van die uitkykpunt en daar het ek besef hier gaan nou iets gebeur.  Die tafel was mooi opgemaak met lekker eetgoed en sjampanje.

Daar was kerse en blomme orals rondom ons.  By die punt van die dek het Waldo my hande gevat, afgesak op een knie en my die groot vraag gevra, ek dink nie hy was al klaar gepraat nie toe is ek al in trane en het herhaaldelik net JA gesê.  Dit was ‘n baie groot verassing en ‘n baie spesiale dag wat ons vir altyd sal koester.

Vertel ons die inspirasie vir die verlowing fotosessie?


Nie een van ons het al so ‘n fotosessie gedoen nie en het nie geweet waar om te begin nie.  Ek en Waldo is nie vreeslik lief vir foto’s neem nie.  Ons was maar redelik op ons senuwees!   Dus het ons aan ons fotograwe gesê ons laat dit oor in hulle hande.  Louis en Gerna van Snap Photography het ‘n vreeslike oulike webblad waar hulle vir jou idees uiteensit.  Hulle gee ook wenke oor wat om aan te trek en wat om in gedagte te hou.  Die enigste voorkeur wat ons gehad het, was dat ons graag in die natuur afgeneem wou word. Hulle het by verre ons grootste drome oorskry!  Hulle was uiters professioneel.  Al het ons hulle nog nooit van tevore ontmoet nie, het Louis en Gerna ons so op ons gemak laat voel.  Hulle het presies vir ons gesê wat om te doen, hoe om te staan en of idees gegee.  Wanneer ons iets voorgestel het, het hulle regtig uit hul pad uit gegaan om dit moontlik te maak.

Vertel ons wat is jul droom troue?


Ons droom troue is waar ons saam gebind kan word as een, met al ons hartsmense teenwoordig.  Ons troue moet so naby aan die natuur as moontlik.  Die droom vir ons troue is ‘n lekker aand hê waar vriende en familie saam kan kuier soos een groot gelukkige familie!  Ek is nogal iemand vir tierlantyntjies, waar Waldo die minimalis is.  Ons probeer sover moontlik die twee style bymekaar bring deur te fokus op waaroor die dag eintlik gaan en nie op hoe dit gaan lyk nie.  Gelukkig is ons altwee lief vir die rustieke tema en wil graag die gaste op hul gemak plaas deur alles te benader uit ‘n rustige oogpunt.

Ons het gelukkig klaar die venue van ons drome gekry!  In Bloemfontein is die Peppermossie, met ‘n idilliese atmosfeer waar die natuur deel is van al die dekor.  Dit is asof die klip kerk en alles rondom dit net natuurlik daar tot bestaan gekom het.  Tannie Hennie en Oom Ertjies, (die eienaars) laat jou so tuis en welkom voel, ook asof julle al jare lank ‘n pad saam stap.  Hulle, tesame met ons ouers maak ons droom troue ‘n realiteit.

[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

  • Fotograaf: Snap Photography Bloemfontein (Louis en Gerna Van Wyk)
  • Hare en Grimering: Pure Indulgence, Bloemfontein.
  • Grimering gedoen deur Elzanie Human-Corbett @ Pure Indulgence.
  • Hare gedoen deur Celeste @ Pure Indulgence.
  • Venue: ‘n Oop stukkie veld in Langenhovenpark, Bloemfontein. (Snap Photography se geheime studio.)

[endsection]