Dries & Minette stylvol & natuurlik troue

Die troue van Dries en Minette is vol inspirasie vir bruide wat voel hul wil hul eie troue beplan en die dekor doen.  Stylvol, natuurlik en eenvoudig is die inspirasie en ons by Mooi Troues belowe julle dat die eind resultaat werklik baie mooi was.

Vertel ons hoe het julle ontmoet?


Ons het in 2011 ontmoet toe ek eerstejaar op universiteit was.  Een van ons jare lange vriendinne het verjaar en ons was ‘n groot groep mense.  Dries het by ons tafel op geëindig en dit was soos wat hulle sê: “ons het dadelik geclick”.  Ons het einde 2014 uitgemaak omdat ons nie geweet het wat die toekoms vir ons inhou nie en ons elkeen het toe ons nuwe loopbane begin, maar dit was nie lank nie,  toe Dries begin 2015 in n motorongeluk was en ons besef het dat ons nie sonder mekaar kan lewe nie.  Ons het vir n jaar lank n lang afstand verhouding gehad.  Ons is toe op 25 Desember in Stilbaai op die strand verloof.


Vertel ons meer van die inspirasie vir die styl van jul troue?


Ons troue was ‘n naweek partytjie vir familie en vriende.  Die venue, Lezar Opstal, se atmosfeer het gevoel asof ons ‘n stukkie van die huis daar gehad het so tussen die perdestalle en grondpaaie. Ek is van kleins af nog altyd mal daaroor om die tafel vir enige geleentheid mooi te dek en blomme te pluk.  Ons het meeste van ons eie dekor, Mintage Decor Hire, en van my tannie Ezette van Farm Inn in Middelburg s’n gebruik.  My pa het emmers vol Eukaliptus van die plaas af gebring.  Ons tema was stylvol, natuurlik en eenvoudig.  Dit was immers lente en daar was sulke mooi blomme wat ons in my skoonma se tuin kon pluk.

Vertel ons van jul wittebrood?


Ons was Thailand toe met ons wittebrood.  Dit was die lekkerste avontuur.  Ons het die land plat gery met ‘n bromponie en het die mooiste en vreemdste plekke besoek.  Die reis gogga het ons definitief gebyt.

Wat sal jul wou verander as jul kon?


My ouma is in Junie verlede jaar gediagnoseer met kanker en ek wens ek kon haar by my spesiale dag hê.  Sy was al klaar baie swak en my oom het met sy selfoon foto’s en video’s gestuur.  Dit was nogsteeds die grootste seën dat sy vir ons gespaar was tot 3 dae na my troue toe sy oorlede is. Ek weet sy is met soveel vrede en vreugde Hemel toe.

Advies aan paartjies wat nog hul troue beplan?


‘n Goeie wenk vir selfdoen- bruide wat in die Somer of Lente wil trou is om jou blomme in die winter al te bestel as jy dit self wil doen.  Dit is dan baie goedkoper.  Maak ‘n noodboksie vir die dames en sit dit in die badkamer.  Dit het soos ‘n bom gewerk.  Sit goedjies soos kopseerpille, sooibrandpille, kougom, pleisters, room, spelde en Spur se nat doeke vir die wyn vlekke in.

Wat was julle begroting vir jul troue?


Ons het nie regtig ‘n begroting gehad nie, maar wou kyk hoe goedkoop ons dit kon hou.  Dit wat ons self kon maak het ons self gemaak.  Ek en Dries het vir ons Wittebrood betaal.  Ons het al die venue se kostes in die helfte gedeel en albei ons ouers het vir hulle eie gaste en familie betaal.  Mens besef altyd eers na die tyd dat party goedjies onnodig was.  Mense waardeer die kos, musiek en geselligheid die meeste.

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: