As ons na die foto’s kyk van Rynard & Bianca dink ons by onsself dat ons na ‘n mode fotosessie kyk met die twee modelle! Dit is egter hul verlowing fotosessie wat geneem was by ‘n baie mooi plek vol Laventel, buite Stellenbosch. Die foto’s vertel ‘n storie van ‘n paartjie wat mekaar lief het en deur die storms van die lewe sal hul liefde net sterker vir mekaar groei.
Hoe het julle mekaar ontmoet?
Bianca vertel: Waar begin ‘n mens as ‘n mens al soveel jare van geluk,seerkry en vreugde saam deel…
Ons het mekaar lank terug die eerste keer raak gesien. Dit was by ‘n Matriek afskeid, Rynard het op sy motorfiets gery en ek sal dit nooit vergeet nie! Toe ons mekaar sien toe is daar sommer dadelik ‘n vonkel in ons oë, Rynard was maar skaam so ons het nie dadelik begin praat nie maar een aand toe ons uit was toe sien ons mekaar weer. Hy het na my toe gekom en langs my kom staan en gesê jy is baie mooi kan ek vir jou ‘n drankie koop, maar Bianca is nie iemand wat maklik ingee nie en het gesê nee dankie ek kan my eie een koop maar my hart het so vinnig geklop.
So het die tyd aan gestap vir ‘n tydjie maar Rynard Lombard het nog nooit tou op gegooi nie en ja, soos wat almal sê “aanhouer wen” en hy het my hart gewen. Hy het in my en Dalton, my seuntjie, se lewens gekom met ‘n rede. Hy het bly baklei vir wat hy wou hê en ons is so dankbaar vir hom en sal hom vir niks en niemand ooit verruil nie.
So het ons paadjie begin en met jare se vasbyt en aanhou staan ons vandag op trou en ek kan nie wag om ons lewens as vrou en man te begin nie. Weer ‘n ander hoofstuk wat ons met volle hande aanpak, maar wat ek al geleer het sonder liefde is n mens niks en twee is beter as een!
Vertel ons meer van julle verlowing?
Bianca vertel: 12 Junie 2016 Is ‘n dag wat ek nooit sal vergeet nie. Rynard het my vroeg wakker gemaak en gesê ons gaan ‘n draai ry Houtbaai se Markie toe. Ek het niks verwag nie! Dit dit was so ‘n lekker dag. Op pad soontoe het ons so lekker gesels en gelag, toe sê Rynard ons gaan Chapman’s Peak om ry. Ek was nog nooit daar nie so ek wou stop en uitklim en als bekyk. So stap ons toe nader op ‘n punt van ‘n rots en kyk oor die mooi uitsig en see. Rynard sê toe hy gaan gou kar toe ek moet net hier wag hy wil foto’s neem.
Ek het my so aan als bekyk en hier begin hy toe met sy bewerige stemmetjie: “My skat ons is al baie jare saam en ek het jou so baie lief en wil die res van my lewe saam jou spandeer en wil niemand anders hê behalwe jou nie.” Ek het ‘n groot knop in my keel gekry en my hart het so vinnig geklop! Ons al twee was so op ons senuwees maar dit was die lekkerste gevoel ooit! My ring, wat hy self gekies het en laat maak het, is so mooi! My antwoord was ‘n definitiewe “Ja”!
Ons kan nie wag nie!
Vertel ons die inspirasie agter die verlowing fotosessie?
Die inspirasie agter die foto sessie was deur die fotograaf, Ciska Steyn, gekies. “Ek wou dit baie spesiaal maak vir hulle en het besluit op die Lavender Fields by Canette Vallei buite Stellenbosch. Die mooiste uitsig waar jy die mooiste fotos kan vas vang! Ek wou dit bietjie meer spesiaal maak as wat mens net by die see gaan fotos neem en het besluit op ‘n baie spesiale plek vir ‘n baie mooi paartjie! Ek wou die mooi van hulle wys deur die “oë” van ‘n mooi plek. Hulle lyk soos modelle en ek het geweet ek gaan dit so baie geniet om hulle fotos te neem.”
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: Ciska Steyn Photography
- Venue: Canette Vallei Lavender Fields