Die toesprake maak die troue. Vir ʼn paar minute het jy die bruidspaar en gaste se volle aandag. Ons fokus vandag op die dames waarop die bruid steun vir hulp en bystand op haar troudag. Om as hoof strooimeisie gekies te word is ʼn groot eer, maar saam die eer kom daar groot verantwoordelikhede gepaard. Die artikel gaan ons help om jou toespraak maklik en vol selfvertroue te lewer.
Die opening van die toespraak
Maak jouself bekend aan al die gaste deur jouself voor te stel en hoe jy die bruid ken. Onthou nie al die gaste is van die bruid se familie en vriende nie. Jy hoef ook glad nie met ʼn grap te begin nie, wees jouself sodat die gehoor kan sien hoekom die bruid jou as hoof strooimeisie gekies het.
Vertel bietjie van die bruid
Vertel hoekom jy die bruid lief het en deel positiewe eienskappe. Moet liefs nie sê “Uiteindelik! Sy het die liefde van haar lewe ontmoet en is ook nou getroud nie.” Moenie glad nie bewoording gebruik wat aandui dat die bruid die laaste een van jul groep is wat trou nie. Dit is ʼn groot nee.
Die bruid se liefdes storie
Deel met die gaste kortliks hoe sy haar maat ontmoet het. Nou kan jy ʼn grappie vertel wat gebeur het terwyl die bruid stomgeslaan was met verliefdheid en hoe sy begin het belangstel in sy passies. (Soos die eerste keer toe julle hom in ʼn fietsry-broek gesien het en die volgende dag het die bruid vir haar ook ʼn fiets met fiets ry uitrusting gaan koop.)
Moet ook nie na haar voormalige kêrels verwys nie.
Nou die bruidegom se beurt
Vertel gaste wat jy van hom lief het en deel hoe hy die bruid goed hanteer en moet asseblief nie vertel jy wil hom kloon; of as dinge nie uitwerk weet waar hy jou kan vind nie; en of hy ʼn enkellopende broer het nie.
Fokus op die getroude paartjie
Praat van albei die bruid en bruidegom. Probeer dit so gelyk moontlik te hou. Vermy om te praat van jouself en hoe julle in julle besige skedules tyd kry om mekaar een keer ʼn maand te sien, maar jy weet die bruid is altyd daar vir jou. Dit gaan nie oor jou nie, fokus op die bruid en bruidegom.
Behou die sjarme
Behou jou toespraak elegant en smaakvol, onthou daar is familie lede in die gehoor. Vermy om te verwys na die bruid se wilde partytjie stadium en interne grappies. Onthou jou woorde wat jy sê skep ʼn indruk van paartjie by die familie.
Wens hul “Happily ever After”
Wens die bruidspaar al die geluk en voorspoed met die toekoms en moenie sê jy wens hul kinders by die dosyne nie.
Die slot
Eindig met ‘n duidelike einde aan jou heildronk; iets oulik soos ‘n klassieke aanhaling of lirieke of merk jou toespraak met ‘n onvergeetlike, ikoniese gesegde.