Met trou beplanning kom daar sekere verantwoordelikhede vir beide die bruid en die bruidegom. Ons fokus vandag op ‘n paar van die belangrike verantwoordelikhede waarop die bruidegom moet fokus as sy deel van die trou beplanning proses. By Mooi Troues is ons ten gunste daarvan dat die bruidspaar albei betrokke moet wees by die beplanning en elk ‘n verantwoordelikheid deel. Die bruidegom kan meer sy deel doen by die fisiese aspekte soos bv. die afhaal en vervoer van blomme of dekor aangeleenthede. Die bruid kan weer fokus op die fyner aangeleenthede soos kleur skakerings en kleredrag. Ons hoop jul sal die artikel geniet en dat dit sommer baie sal help om die beplanning proses te vergemaklik.
Die bruidegom se betrokkenheid wanneer dit kom by jul troue.
Tydens die beplanning van ‘n troue is die fokus meestal op die bruid. Dit is maklik om te vergeet dat dit ook die bruidegom se dag is. Die bruidegom laat gewoonlik die meeste besluite aan sy bruid oor, maar omdat dit ook sy dag is moet sy opinie met sekere aangeleenthede in ag geneem word. Kyk gerus na die onderstaande voorstelle hoe om jou verloofde deel van die beplanning te laat voel.
Sy uitrusting
Jy het dalk reeds ‘n visie van jou bruidegom wat jou by die altaar inwag. Maak egter seker dat hy gemaklik gaan voel met die uitrusting wat hy gaan aantrek. Die bruidegom wil altyd sy bruid tevrede stel. Daarom behoort daar nie te veel verskille met die keuses te wees nie. Hou net ingedagte dat hy goed moet voel en die keuse op die ou einde grootliks sy eie moet wees. Jy mag egter toegelaat word om voorstelle te maak.
Die Kroeg
Die drankies wat by die onthaal geniet gaan word is grootliks die bruidegom se afdeling. In die meeste gevalle betaal die bruidegom vir die drank so as hy voel dat hy die manne wil bederf met internasionaal of “craft” bier, laat hom dit toe. Dis egter net belangrik dat hy seker maak dat hy in die begroting bly.
Sy Familie
Alle families het probleme onder mekaar waarvan mens nie altyd bewus is nie. Laat jou verloofde of sy ouers toe om te help met die uitnodigings van die familie asook die sitplek reëlings. Dit sal voorkom dat mense wat nie gemaklik voel met mekaar om een tafel beland. Jy as bruid kan op jou ouers en eie familie fokus.
Die Eerste Dans:
Daar is vele Youtube video’s van paartjies wat die eerste dans met ingewikkelde danspassies begin. Nie almal kan dit doen nie. Bespreek dit met jou verloofde en maak seker jul eerste dans is gemaklik vir albei om te verhoed dat julle so moet konsentreer met die “steps” dat julle dit nie geniet nie. Dit is nie ‘n “Strickly Come Dancing,” kompetisie nie.
Sy Strooijonkers:
Dit is nie belangrik dat die getal strooijonkers en strooimeisies dieselfde moet wees nie. As hy net 3 van sy beste vriende wil kies terwyl jy 8 van jou vriendinne wil kies is dit ook reg.
Die Spyseniering
Daar word beweer die pad na ‘n man se hart, loop deur sy maag. Die meeste mans hou van lekker eet so neem hom gerus saam na al die kos proe en luister na sy opinies.
Die Wittebrood
As jou bruidegom julle wittebrood bestemming ‘n geheim hou, kan jy net vooraf seker maak watter kleredrag jy daarvoor moet inpak. Indien julle saam besluit waar julle die eerste dae as Mnr & Mev wil deurbring kan jy die verdere reëlings soos verblyf en uitstappies in jou bruidegom se bekwame hande laat.
Artikel Krediet:
- Mooi Troues