Al wat ons kan sê is “WOW” – Alles is pragtige van die dekor, trou rok, die liefdesverhaal en natuurlik die foto’s. Ons het nie nodig om enige iets meer te sê nie – Ons sal dit net bederf. Lees en loer self na dié trou wat die standaard stel vir plaastroue wat ons hoop om meer op Mooi Troues te deel.
Agtergrond
My ouers boer buite Jeffreysbaai en my droom was om op die plaas te trou. Dit was baie spesiaal vir my en ook meer persoonlik as ’n gehuurde venue. Al 230 gaste het saamgestem dat dit ’n magiese geleentheid was. My ma en haar vriende en vriendinne het alles gereël en hoegenaamd niks het verkeerd geloop nie, behalwe natuurlik dat dit teen 11h die aand meer as 100mm binne 2 ure gereën het! Dit het gelyk soos ’n toneel uit die Titanic. Dis net water waar jy kyk en die tent hang sulke bolle vol water, maar die musiek bly speel en die mense dans!
Nog iets wat die dag baie spesiaal gemaak het, is die feit dat ek die derde geslag was wat in dieselfde trourok getrou het. My ouma en naamgenoot het 58 jaar gelede in dieselfde rok getrou en my ma het in 1981 ook die rok op haar troudag gedra. My ma het ‘n koerant gemaak vir die troue met o.a. ‘n storie oor die rok, die gevolg, die menu en sitplekke en ander belangrike inligting. My jongste broer het al die pad van Kanada afgekom vir die troue, so daar was baie spesiale oomblikke by dié geleentheid.
Waar het julle ontmoet?
Ons is albei in die modebedryf in Kaapstad. In April 2009 was ons by ’n partytjie van ‘n wedersydse vriend by ‘n kuierplek in Kaapstad met die naam EVOL (LOVE agteruit gespel). Warren het my raakgesien en sy vriend, Dylan wat een van die strooijonkers was, het hom aangespoor om met my te gaan praat.
Sy eerste woorde aan my was: “Hey… I think I like you..” Ons het begin gesels en later ‘n paar keer saam begin uitgaan en spoedig het “like you” na “love you” verander en ek was smoorverlief op die Engelsman met die sagte hart.
Hoe het julle verloof geraak?
By ’n troue op Jeffreysbaai het Warren die ja-woord by my pa gekry. Sy plan was om in Durban romanties die ja-woord vra. Die opgewondenheid was egter te groot en op die ingewing van die oomblik, het hy op sy knieë gegaan en voor al ons vriende my gevra om te trou!
Die volgende dag is ons na die naaste juwelier om ’n ring te koop. Net daar, in die parkeerterrein by die winkelsentrum het hy weer op sy knieë gegaan en die ring aan my vinger gesteek. Motoriste het die petalje dopgehou en op hulle toeters geblaas! Romanties?!
Hoe lank was julle saam voor jul getrou het?
Ses jaar. Ons was bietjie meer as twee jaar verloof. Ons het gesukkel om ‘n troudatum te kry want byna elke naweek het een van ons vriende getrou en ons wou graag ‘n langnaweek kies omdat die meeste gaste van Kaapstad afgekom het.
Advies wat julle aan ander paartjies kan gee?
Maak ’n digitale plakboek van idees. Kies watter uitvoerbaar is, vergeet van die res en vertrou die organiseerders daarmee. So kan jy die dag ten volle geniet. Ons het baie bespaar op blomme deur die plaas se fynbos en loof te gebruik. My ma het ‘n hele bedding Hanekam blomme (Celosia) in die tuin gesaai. Slegs enkele blomme is gekoop. Skep atmosfeer met baie kerse. Musiek kan jou onthaal maak of breek. Sorg dat jy die beste kry en dra naald en gare saam. Kort voor die seremonie het my skoen se hak die 58 jaar oue rok geskeur!
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: Shaula Greyvenstein
- Onthaal: Ouers se plaas, Vlakteplaas, Jeffreysbaai
- Trourok: Ouma se trourok verwerk deur Rika Ferreira
- Strooimeisie rokke: Amanda Laird Cherry Apparel
- Musiek: DJ Dario Leite Cape Town & The Larter Brothers
- Spyseniering en troukoek: 3 Fat Fish
- Dekor: Bruid se moeder en vriende
- Blomme: Pieter Kok & Megan McCarthy
- Blommemeisie rokke: Zara
- Bruid se hare en grimering: Alet Viljoen
- Grafiese ontwerper: Alice Edy
- Videograaf: Your Wedding Tale