Ons gesels vandag met ʼn karikatuurtekenaar, Martinus van Tee. Indien jy opsoek is na vermaak by jou troue wat gaste lekker sal laat lag tydens jou fotosessie óf gedurende jou onthaal is ʼn karikatuurtekenaar ʼn goeie opsie om te oorweeg. Martinus van Tee is ʼn baie bekende kunstenaar in dié veld en sy werk laat mense behoorlik gons. Hy skets jou in ʼn manier wat jy nooit sal verwag nie. Dit is ook die perfekte geskenk vir jou gaste, Dit is iets anders, snaaks en iets wat hulle kan raam en ophang in hulle huise.
Hoekom het jy dié diens begin?
Ek het op hoërskool begin karikature teken, en in die klas in my boeke al my vriende en onderwysers geskets. My klasmaats het lekker daarvoor gelag. Ek het besef ek kan mense só vermaak. Ek is mal daaroor om mense te teken, en troues is my gunsteling tipe funksie, want almal is daar om dit te geniet. Dit is ook min dat mens in SA ʼn karikatuurtekenaar by ʼn troue sien en almal soek iets uitsonderlik.
Waar kom jou liefde vir kuns vandaan?
My pa is ook ʼn karikatuurtekenaar en ʼn skilder, so sy werk het my van kleins af beïnvloed. Ons het saam na baie galerye en museums toe gegaan, en dit het vir my ook ʼn baie wyer verwysingsraamwerk vir kuns gegee. Animasie is ook nog altyd ʼn groot invloed op my werk, en ek kyk steeds graag Dexter’s Lab, Looney Tunes, en Ren and Stimpy.
Hoe sal jy jou diens/produk aan bruide verduidelik?
Ek begin gewoonlik tydens drankies tyd die gaste skets. Dit breek die ys, want hulle kry bietjie kans om vir mekaar se sketse te lag. Hulle vergelyk die neuse, lippe en kenne in die karikature. Die gaste word vermaak. Maar hulle gaan ook huis toe met ʼn persoonlike geskenk wat hulle altyd aan die troue sal herinner. Ek skets 20 gaste per uur, en kan tot 120 mense op ʼn aand teken.
Hoe kan mense jou kontak?
Die beste is om vir my ʼn e-pos na martinusvantee@gmail.com te stuur, of om my op 071 116 2600 te bel. My webtuiste martinusvantee.com het ook al my kontakbesonderhede en voorbeelde van werk wat ek by funksies geteken het. My Facebook blad is facebook.com/martinusillustration.