Ons deel vandag Pedro en Raquel se mooi, kleurvolle troue. Hierdie troue weerspieël die paartjie paartjie se pragtige persoonlikhede wat jy regdeur die foto’s kan sien.
Pedro en Raquel het by die pragtige Glenburn Lodge getrou en het self al hulle dekor gedoen. Die talentvolle Open Image Photography het die foto’s geneem. Die paartjie se troue is definitief ʼn wenner en ietsie anders as die gewone. Dit is helder, vol lewe en het langs ʼn groot dam plaasgevind.
Lees meer oor Pedro en Raquel se ontmoeting en liefdesverhaal. Geniet die foto’s.
Hoe het julle verloof geraak?
Ons storie is nou nie een van daardie waar ons op skool ontmoet het en dadelik geweet het dat ons vir altyd saam wou wees nie. Ek was 16 en Pedro was 17 toe ons begin uitgaan het. En kom ons wees eerlik, op daardie ouderdom dink jy nie dis jou trouman nie. Wat wel gebeur het, is dat ons ʼn vriendskap ontwikkel het oor die jare. Ons het beste vriende geword. In ons 20’s het daardie vriendskap verander in ware liefde. Vir amper 12 jaar was ons elk geseënd met ʼn beste vriend op wie ons toe verlief geraak het en nou die res van ons lewens saam wil spandeer.
Die verlowing:
As jy vir so amper 10 jaar al ʼn verhouding met ʼn persoon het, ken jy daardie persoon sommer baie goed. Ek het oorspronklik gedink dat Pedro my gaan vra om te trou op ons 10 jaar herdenking. Hy het na die tyd erken dat dit die plan was!
Vroeg die oggend voor ons sou vertrek uit Londen om in Malta te gaan woon, het hy in ʼn paniek wakker geword, aangetrek en gesê hy sien my later. My eerste gedagte “hy twyfel oor ons en die verhuising na Malta!” Na ure se vlinders op my maag het hy eindelik terug gekom. Hy was skoon bleek, het amper siek gelyk. Hy’t gevra of hy privaat met my kon gesels. Ek het dadelik probeer dink aan dinge wat ek kon doen om hierdie gesprek uit te stel.
Die groot vraag:
Ons het ʼn stappie buite gevat. Dit was nat en koud soos net Londen kan wees in November! Voor ek enigiets kon sê het hy begin praat oor Malta en hoe alles gaan uitwerk, hoe ons sonder voorval geïmmigreer het na Londen en dat hierdie dieselfde sou wees. Na hy so 5 minute aangegaan het, het hy na my gedraai en gesê: “Raquel stop – wat ek probeer sê is…” Hy het afgegaan op een knieg. Ek het sommer geweet wat kom. Hy het nie eens ʼn kans gekry om te vra nie! Ek het hom dadelik styf vas gegryp en gedruk en geskree “JA!!”
Trane van blydskap het gestroom en dit het so 2 minute gevat voor ek besef het hy hou steeds die ring boksie vas!
Die plan was om die groot vraag te vra op ons herdenking, maar teen daardie tyd sou ons alleen in Malta gewees het. Omdat Pedro weet hoe belangrik my familie vir my is, het hy besluit (dis wat al die siele wroeging veroorsaak het) om die vraag te ‘pop’ voor ons vertrek sodat ons dit kon vier saam met die mense vir wie ons die liefste is.
Wat het jou troudag so spesiaal gemaak vir jou?
Ons familie en vriende. Die dag voor ons troue het ons koördineerder bedank, ons het ʼn oproep ontvang om te sê hy gaan nie meer beskikbaar wees om ons troue te oorsien die volgende dag nie. Enige bruid se grootste nagmerrie. Hy was veronderstel om die dekor in die kapel en onthaalsaal te versier dáárdie aand. So in plaas daarvan om ʼn rustige aandjie te hê saam met my bruidsmeisies, het ons (tesame met ʼn paar ekstra familielede en vriende) alles gaan doen. Ek sal nooit genoeg dankie kan sê vir al hulle harde werk nie. Ons is so baie lief vir julle almal! Julle het gesorg dat ek en Pedro ons droom troue gehad het.
Watter advies kan jy gee aan paartjies?
Om ʼn troue te beplan veroorsaak baie stres. Maar staan bymekaar en ondersteun mekaar – dit sal julle sterker maak as ʼn paartjie. Moenie stry oor die klein dingetjies nie, dis nie dit werd nie. Jul troue is een van die belangrikste dae van jul lewens, maar ek belowe die dae wat daarna volg is nog beter!
[section=Klik hier vir diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: Open Image Photography