Wanneer jy trourokke gaan aanpas & wat om te verwag

Janita Toerien gee haar raad vir die aanpas van jou trourok.  Lees meer onder:

Ek beveel altyd aan dat bruide trourokke gaan pas.  Dis lekker en opwindend!  Jy kan ‘prinses speel’ vir ʼn dag en die vrouens in jou lewe ʼn bietjie in die proses insluit.  Die belangrikste van alles is dat jy ʼn goeie idee kan kry van wat jou lyf pas en ook waarin jy gemaklik is.

Jy moet eerstens besluit wat die rede is waarvoor jy trourokke gaan pas;  Bloot vir die lekkerte of om ernstig te kyk na die opsies. Die talentvolle Claire Thomson Photography het die pragtige foto’s geneem.

cp_0171cp_0172 cp_0173 cp_0174

Waarom jy trourokke gaan aanpas


Wanneer jy dit bloot vir die lekkerte doen, kan jy die mense vat wat jy graag wil insluit en wie nie by alles betrokke is nie.  Bv. ʼn skoonma wat ver weg bly of jou strooimeisies as jy die eintlike rok ʼn verrassing wil hou.  Moet wel nie te veel mense saam neem nie, want elkeen gaan ʼn opinie wil lewer.  Hoe groter die groep, hoe moeiliker is dit vir jou konsultant om jou 100% te help.  Weet ook wie se opinie saak maak en wie s’n nie.  Gee vir hulle “ground rules” vooraf; Geen negatiewe aanmerkings, luister na die konsultant, moet nie trourokke kies bo jou begroting nie ens.  Dit gaan maak dat jy die beste ervaring gaan hê en dat jou tyd effektief gebruik gaan word.

Wanneer jy gaan om ernstig na trourokke te kyk, wees versigtig om meer as twee mense saam te neem.  Kies mense wie jou belange op die hart dra en wat die beste vir jou wil hê.  Ons sien dit so baie waar bruide hul beste vriendin of ma saam bring en al wat die persoon doen is om die bruid in ʼn negatiewe lig te plaas.  Dis vir niemand lekker nie!  Jy dink dalk jy wil jou “eerlike” vriendin vat, maar daar is ʼn verskil tussen eerlikheid met liefde en onbeskofte aanmerkings. Onthou ook, hoe meer opinies daar is, hoe meer verwarrend kan dit raak.

cp_0175 cp_0176 cp_0177 cp_0178

Konsultasie


Om die proses aan die gang te kry moet jy ʼn afspraak maak by die boetiek of winkel.  Meeste plekke vra ʼn konsultasie fooi of vra geld per item.  Maak gerus die afspraak 9 – 12 maande voor die tyd.  Meeste van die boetieks bestel hul trourokke van oorsee.  Wanneer jy ʼn rok pas, is dit gewoonlik ʼn voorbeeld-rok en jou rok word dan bestel. Dit kan enige iets tussen 3 en 5 maande duur om te bestel.  Daar moet in ag geneem word dat dit nog gestuur moet word en deur Suid-Afrikaanse invoerregte gaan.  Neem kennis van vakansiedae.  In ʼn geval soos April waar daar so baie vakansiedae is dat afleweringstyd met 2 weke vertraag kan word of Kersfees wanneer van die fabrieke se produksie sluit.

Wanneer dit ʼn groter kettingwinkel is het hulle gewoonlik ʼn paar van dieselfde trourokke in verskillende groottes beskikbaar en hoef jy dus nie so lank te wag nie.  Jou konsultant sal wel al hierdie besonderhede ten opsigte van bestel- en aflaaitye met jou bespreek asook hoe lank dit sal vat vir die verstellings, so moenie bekommerd wees nie.

Belangrik om te onthou:

Dit is baie belangrik om te onthou dat alhoewel jy ʼn bruid is en dit julle spesiale dag is, dat jy tog na iemand se plek van besigheid gaan.  Konsultante sal alles in hulle vermoë doen om jou te gemoed te kom.  Dit beteken egter nie jy mag jou gedra soos ʼn kleuter wat haar sin wil hê en ʼn vloermoer kan gooi om dit te kry nie.  Jy is groot genoeg om die besluit te maak om te trou en dus gedra jy jou soos ʼn volwassene wanneer jy trourokke gaan pas.  Behandel jou konsultant met respek.  Besef dat net soos wat jy nie daarvan hou as mense jou by jou werk sonder respek behandel nie, net so hou hulle ook nie daarvan nie.

cp_0179 cp_0180 cp_0181 cp_0182 cp_0183

Navorsing


Dit is altyd ʼn goeie idee om ʼn bietjie navorsing te doen, as jy kan, oor die plek waar jy gaan pas en kyk wat hulle het. So kan jy vir die konsultant vertel, of ʼn foto van hulle webtuiste wys, watter trourokke jy graag wil pas.  Ek stel voor om oop te wees om verskillende rok soorte te pas.  Jy mag dalk voel dat jou kind-draende heupe verbloem kan word onder ʼn groot balrok.  Ek wil jou verseker, daai Jennifer Lopez kurwes gaan so goed lyk in ʼn Trumpet of Mermaid silhoeët, jy sal dit nie glo nie! Wees ook bereid om te luister na voorstelle wat die konsultant maak.  Hulle mag dalk net weet wat perfek gaan werk op jou.

Dit is taamlik oorweldigend om vir die eerste keer te gaan trourokke pas.  Bruide besef dikwels, hulle is opsoek na dié rok, maar gaan verskillende opinies kry.  Style wat hulle gedink het hulle gaan pas, mag dalk glad nie werk nie.  Dit is nog ʼn rede om eerder vroeër te gaan as later;  Met al die emosies onthou ʼn mens gewoonlik nie wat jy nou eintlik aangepas het nie, alles raak onduidelik.

cp_0184 cp_0185

Foto’s


Mag jy foto’s neem?  As julle kan foto’s neem, doen dit, maar dit hang af van plek tot plek.  Party winkels gee glad nie om nie, ander wil hulle ontwerpe beskerm.  Vra gerus die konsultant wanneer julle daar aankom.  Wees eerlik met jou konsultant.  Sê vir haar as jy nie van plan is om daardie dag te koop nie, of as daar ʼn ander rok is by ʼn ander boutiek waarvan jy meer hou.  Die konsultant gaan nie kwaad raak nie, hulle mag dalk vir jou kan sê of daar ʼn nuwe reeks op pad is wat meer geskik is vir jou styl.  Wanneer jy vriendelik is en hulle met respek behandel, kan ek jou verseker hulle sal die ekstra myl gaan om jou te help as hulle hul sout werd is.

Wanneer jy die week klaar trourokke gaan pas het, kyk ons volgende week na wat jy kan verwag wanneer jy jou rok gaan laat maak.

cp_0186 cp_0187cp_0188

Diensverskaffers: