Moet jy ‘n rok maak of koop

Mooi Troues se ontwerper-bydraer, Janita Toerien, gee jou trourok advies: Rok koop of rok maak? Lees onder meer trourok advies in dié artikel.

Jy is pas verloof, kop in die wolke, tap oor van geluk.  Daai vierde vinger op jou linker handjie het nog nooit so mooi geblink nie!  So, hier sit jy nou, voor jou rekenaar op elke blog, webtuiste en Pinterest bord wat die soek woord “wedding dress” bevat.  Met dié groot verskeidenheid rokke, nie eers te praat van elke getroude vriendin, kollega óf tannie se opinie nie, voel jy deurmekaar oor waar om te begin.

As ‘n ontwerper wat elke dag, persoonlik, met ‘n verskeidenheid bruide werk.  Voel ek jy kry heel eerste twee tipes bruide: Die Maak-bruid en die Koop-bruid.  So eenvoudig soos dit.  Voor ons kyk watter een jy is?  Kom ons kyk vinnig na van die uitdrukkings wat jy mag teëkom opsoek na dié rok.  Dit mag jou dalk net help om te besef waarna jy opsoek is en dan waar om te gaan soek!

Junita Toerien_0007

Hieronder volg definisies van woorde waarna jy moet kyk wanneer jy na jou rok begin soek:


READY-TO-WEAR:

Dit verwys na ‘n item wat jy koop en dadelik kan dra.  Dit is beskikbaar in standaard groottes en geen verstellings is óf word gemaak om die draer te pas nie. Klere wat jy so koop is jou alledaagse kettingwinkel klere.  Sou jy ‘n trourok koop waarvan die etiket lees Ready-to-wear moet jy kyk of die winkel jou verwys na ‘n kleremaker om jou rok te verstel en of hulle die verstellings doen.

MADE-TO-MEASURE:

Streng gesproke beteken dit daar is ‘n bestaande patroon en die patroon word verstel volgens jou basiese mates wat geneem word vóór die rok gemaak word.  Party winkels gebruik die term wanneer hulle ‘n rok bestel en die verstellings later doen wanneer jy as bruid eers gepas het.

BESPOKE:

Met ‘n bespoke rok word jou mates heel eerste geneem, dan word daar ‘n patroon op getrek op jou mates en dan word jou rok eers gemaak.  Dit is ‘n patroon wat totaal uniek is aan die individu wie se mates geneem is en daar word baie mates geneem.

CUSTOM MADE:

Custom is ‘n baie breë beskrywing en kan op baie goed van toepassing wees.  ‘n Custom rok kan verwys na bespoke, ‘n custom design kan verwys na ‘n bestaande rok waarvan sekere detail soos die kant of ‘n strik verander word om die ontwerp meer oorspronklik te maak.  Die eindpunt van iets custom gaan tog wees net soos dit sê, uniek aan jou en nie net bloot standaard nie.

Junita Toerien_0010

Couture vs Haute Couture


COUTURE:

Ek is seker meeste van julle wil nie eers die woord sê nie, maar my Franse skoonma sê hom met so ‘n sagte glip van die tong in ‘n vinnige brei . Dan rek my ogies groot en ek giggel net want dit klink so mooi!  Couture verwys na klere wat hoog mode is, baie keer iets op bestelling gemaak (verwys na bo) maar ook, dit is die manier van dit maak. Alles word met detail afgewerk en baie keer met die hand, sommer só dat jy nog die fyn rytjie perfekte stekies kan sien en jy weet, dit is nie met ‘n harde industriële masjien gedoen nie. Jou rok word nie net deur die omkapmasjien gegooi nie, maar word met “silk binding” afgewerk en die krale word nie vinnig met die Bedazzler gegom nie, maar elke glas kraletjie saadjie word met die hand vasgewerk.

HAUTE COUTURE:

Hier kan ek mos die papelellie piep kry as elke Jan Rap en sy maat hulself ‘n Haute Couturier noem of sê hulle maak Haute Couture.  Hierdie is ‘n term wat slegs ‘n handjievol modehuise hulself mag noem. Hulle moet aan sekere standaarde voldoen, opgestel deur die Chambre de commerce et d’industrie de Paris. Haute Couture verwys ook na couture klere wat alleenlik met die hand gemaak is en van besonderse materiaal is met ‘n besonderse ontwerp.

Junita Toerien_0012

Goed, nou die groot vraag, moet jy jou rok laat maak of koop? Dit is heeltemal jou keuse.


Ek voel jy moet jou rok koop, of huur, wanneer jy sukkel om iets wat nie bestaan nie te visualiseer. Onthou, as jy jou rok laat maak moet daar van niks af iets kom.  As daardie gedagte vir jou in ‘n koue sweet laat uitslaan, koop jou rok.  Jy gaan hom kan sien.  Jy gaan net daar op die kol verlief kan raak en jy gaan die rok net daar kan koop.  Die rok kan al maande voor die tyd klaar wees.  Dit is een minder ding vir jou om oor bekommerd te wees.

Wanneer jy ‘n “koop bruid” is en jy laat maak jou rok.  Kan dit baie stresvol raak vir jou en jou ontwerper.  Jy gaan nie regtig die ware eindproduk kan sien tot amper teen die einde nie.  Dit is ‘n kreatiewe proses waarvan jy totale beheer gaan moet oorgee en basies in ‘n vreemdeling se interpretasie van jou idee gaan moet vertrou.

Sou jy verkies om ‘n rok te koop, maar jy het dalk ‘n meer unieke lyfie.  Of jou idee is net nie beskikbaar in die winkels nie.  Dan moet jy sit en die besluit maak: of jy vat iets wat nie 100% is nie en jy vermy die stres óf jy kies ‘n ontwerper vir wie jy die meeste vertrou, met wie jy oor die weg kom en van wie se styl jy hou.  Wat ook al gebeur, jy gaan ‘n doelbewuste besluit moet neem en streng daarby hou.

Junita Toerien_0011

Wil jy ‘n rok ontwerp en maak?

Ek voel wanneer jy die tipe bruid is wat jou rok laat maak?  Is jy gewoonlik iemand wat weet presies wat jy wil hê.  So weet jy gaan dit nie in die winkel kry nie.  Dis alles goed en wel om ‘n oorspronklike idee te hê solank jy ‘n ontwerper kry wat jou idee verstaan. Gaan na ‘n paar (nie te veel) ontwerpers vir konsultasies en kyk hoe julle oor die weg kom.  Ek sê weer, jou rok gaan jou ontwerper se interpretasie wees van jou idee!  Dus moet jy iemand kies met jou styl.

Ek sê altyd vir my bruide “As jy hou van die rokke wat jy hier sien gaan ek heel moontlik vir jou een kan maak waarvan jy hou”.  As dit nie jou smaak is nie kom ons kry vir jou iemand wat jou styl die beste na vore kan bring! 

Dit is regtig belangrik om die regte ontwerper vir jóú te kies. Dit is vir ons as ontwerpers so lekker wanneer iemand ons toe oë vertrou om hulle rok te maak.  Ons kan die beste werk dan doen, want ons kreatiwiteit word nie beperk tot iemand anders se styl nie.

Junita Toerien_0013

Ter slotte:

Die punt is, en dit is ‘n deurlopende punt wat ek met elke artikel gaan maak.  Moet nooit vergeet hoekom jy in daardie rok gaan staan nie.  Dit is oor die belofte wat jy en jou man aan mekaar gaan maak.  Daar is niks daarmee fout om ‘n rok te laat maak en meer te betaal.  Of om een te koop of huur en minder te betaal nie.  Daardie goedjies is klein in die groter prentjie. Wat ek wel beoog met die skryf van hierdie artikel is om meer inligting te verskaf oor die besluite wat jy langs die pad gaan moet maak. Dit verskaf riglyne wat, wanneer die deurmekaarheid slaan (en dit gaan), ‘n bietjie meer duidelikheid kan bied oor sekere goedjies.

Nou, dink hierdie week lekker oor wat jy graag wil doen, koop of maak … Dan praat ons volgende week oor wat jy kan verwag wanneer jy jou rok gaan koop!

Diensverskaffers: